Ons is ‘n groep entoesiaste wat masjiene bou en noem onsself Die Suid Afrikaanse Rekenaar Numeriese Beheer Klub (SA-CNC-Klub). Heelparty van ons projekte is om ou industriële masjiene aan te koop en die uitgediende rekenaarstelsels te vervang met hedendaagse oopbron tegnologie. Die aard van hierdie werk is multi-dissiplinêr. Dit verg kennis vanuit ingenieursdisiplines, onder andere: meganies, elektries, elektronies, rekenaar, materiaal, metalurgies en chemies. Die einddoel is om ‘n geïntegreerde produk van outomatisasie daar te stel om werk vir die mens te kan verrig.
Ons lede is van diverse agtergrond, maar word bymekaar gebring in die masjienboukonteks. Baie lede staan in verwante beroepe soos: masjienprogrammerders, meganiese ingenieurs, mesmakers, juweliers, geneeskunde, geweersmede, elektroniese ingenieurs, ficisi, houtbewerking, waterverwerking, masjienombouers, farmakologie, swaar ingenieurswese, ens. Ander lede wat in nie-verwante beroepe staan, is lid van die klub vanuit ‘n stokperdjie perspektief.
Professor Rudy du Preez is die stigter en voorsitter van die SA-CNC-Klub en staan in die beroep as siviele ingenieur. Hy het meer as 30 jaar gelede begin om kwaliteit Switsers- en Duitse staalverwerkingsmasjiene aan te koop en te restoureer. Sy belangstelling het vertak in die rekenaarbeheer van masjiene. Prof Rudy is ‘n visioenêr en integreeder van, idees, mense en meganiese stelsels. Die klub is dan ‘n natuurlike voortsetting van sy entoesiasme.
Ons ontmoet een keer per maand in Centurion, Suid-Afrika. Byeenkomste word vooraf gestruktureer met gekose besprekingsonderwerpe, en neem dan ‘n informele samewerkingsaard aan. Gereelde demonstrasies gee lede ‘n in diepte kennis van hoe om hulle eie uitdagings aan te pak. By die SA-CNC-Klub kan jy verwag om kennis in te win oor hoe om robotkinematika te operasionaliseer, asook hoe om masjienparte effektief skoon en roesvry te kry. Prominente klubkennis sluit in; die gebruik van die masjienbeheerder LinuxCNC en die Fusion 360 teken-en-kodering sagteware.